Skoolreëls
Alle leerders ontvang ‘n volledige stel skoolreëls voor in hul Noriedagboek aan die begin van elke skooljaar. `n Volledige stel kan hier afgelaai word of is ook op aanvraag beskikbaar by ontvangs. Die reëls in verband met skooldrag is ook hier beskikbaar. Hierdie is slegs ‘n uittreksel van die algemene skoolreëls wat van belang sal wees vir voornemende leerders. Dit is egter alle leerders se verantwoordelikheid om ten alle tye op hoogte te wees van alle skoolreels. Onkunde sal nie as verskoning vir die verbreking van reëls aanvaar word nie.
SKOOLURE
Maandag tot Vrydag 07:25 – 14:00.
Leerders wat nie reeds teen 07:30 in die vierkant /in die klas aangemeld het nie, is laat. Laatkommers moet by die Norieraad of personeel aanmeld en die skooldagboekie inhandig vir kontrole. Leerders wat laat is, moet nogtans in die saal of vierkant aansluit.
AFWESIGHEDE
- Leerders mag slegs as gevolg van siekte of ‘n grondige rede afwesig wees.
- Ouers sal op dieselfde dag per sms in kennis gestel word indien ‘n leerder afwesig gemerk word gedurende registerperiode.
- Indien ‘n leerder afwesig is, word verwag dat ouers die kantoor voor 9:00 sal skakel.
- ‘n Mediese sertifikaat is ‘n vereiste vir afwesighede tydens amptelike toetse/eksamens.
- Dit is die leerders wat afwesig was se plig om agterstallige skoolwerk in te haal. Hulle kan egter staatmaak op die onderwysers se ondersteuning. Skoolversuim (en bank van periodes) word in ‘n ernstige lig beskou en kan tot skorsing lei.
- Leerders wat langer as 10 dae sonder wetlike verskoning afwesig is, sal van die klasregister geskrap word volgens die Onderwysbeleid oor leerderaanwesigheid.
LEERLINGE WAT DIE TERREIN TYDENS SKOOLTYD VERLAAT
Die volgende reëls is t.o.v. uitteken by die skool is vir u kind se eie veiligheid.
- Afsprake moet deur die ouer agter in die leerder se dagboekie aangeteken word in die spasie bekikbaar daarvoor.
- Leerders moet self op die tyd, soos aangedui in die dagboekie, vra om uit die klas verskoon te word en na die ontvangslokaal gaan.
- GEEN leerder word per interkom uit klas geroep nie.
- Ouers moet leerders persoonlik by die ontvangs kom uitteken en afhaal.Leerders wat gedurende die dag ongesteld raak of wat dringend uitgeteken moet word, moet persoonlik deur hul ouers by ontvangs afgehaal word en uitgeteken word.
- Die graadhoof/ adjunkhoof moet teken om toestemming te verleen in die geval van matrieks.
BOELIES EN KUBERBOELIES
Hoërskool Noordheuwel beskou bullebakkery en kuberbullebakkery sowel as die misbruik van sosiale media op enige wyse in ‘n baie erstige lig. Daar word streng teen leerders wat hulle hieraan skuldig maak opgetree volgens ons vasgestelde beleid.
DRANK-, DWELMMISBRUIK EN ROOK
- Geen leerder mag alkoholiese drank op die skoolterrein bring of gebruik nie. ‘n Leerder wat alkoholiese drank gebruik het, mag ook nie die skoolterrein onder die invloed daarvan betree nie.
- Die tabakwet verbied enige rook in die geboue en op die skoolgronde . Geen leerder mag dus op die skoolterrein of in skooldrag rook nie. Geen leerder mag in besit wees van vuurhoutjies, aanstekers of sigarette nie. Leerders mag nie na tabak ruik, of in die geselskap, of in die omgewing van rokers wees nie. Geen rookpype (hubbly) of elektroniese sigarette word op die terrein toegelaat nie.
- Volgens Onderwyswet 84 van Artikel 8a van 1996 mag enige ten enige tyd leerder vir dwelms getoets word en ouers sal binne 24 uur in kennis gestel word van die uitslag. Daar sal streng opgetree word teen leerders wat positief toets. Die skool se volledige dwelmbeleid is beskikbaar in die Noriedagboek.