Kultuur By Ons Skool

Hoërskool Noordheuwel streef na die ontwikkeling van gebalanseerde volwassenes en daarom bied ons 'n wye verskeidenheid kultuuraktiwiteite waarin leerders hul kan uitleef en talente kan ontwikkel.

Kriteria vir Kulturele Toekennings

Nories kultuur is kookwater en ons glo dat, om erkenning aan ons kulturele uitblinkers te gee, leerders aanspoor om altyd harder te probeer. Die kriteria waarop kultuurtoekennings gebaseer word, kan hier afgelaai word .

Koor

Koor

Ons koor presteer al jare onder die bekwame leiding van ons koormeester, Brendon Grové. Ons kompeteer jaarliks op verskeie platforms soos die ATKV waar ons uitstekend vaar! Ons sing graag verskeie genres en geniet die samehorigheid onder mekaar. Musiek is deel van ons bestaan.

A Capella

A Capella

Die Norie A Capella is 'n sanggroep wat sonder enige instrumentale begeleiding sing. Dit bestaan uit tussen 20 tot 25 leerlinge vanaf graad 8 tot Matriek. Hulle sing verskillende genres en tale. Ons tree ook graag op by funksies en geniet elke oomblik daarvan om gehore te vermaak.

Redenaars & Debat

Redenaars & Debat

Redenaars is daardie platform waar jy leer om self te dink. By Nories is dit beslis waar jy leer om jou sê te kan sê op ʼn sinvolle manier. Nories presteer jaarliks by die ATKV en dring deur na die landsfinale kompetisie. Radikale redenaars en Oppitongaf is ook belangrike kompetisies waaraan Nories deelneem.

Spreekkoor

Spreekkoor

Die Spreekkoor bestaan uit ʼn groot groep leerders wat graag deelneem aan kunswedstryde. Ons oefen hard en hou daarvan om elke jaar iets nuuts te probeer. Kom word deel van Nories se Spreekkoor.

Toneel

Toneel

Noordheuwel het ‘n uitstekende geskiedenis van tienertoneel deelname en prestasie. In 2014 dring die skool die eerste keer deur na die ATKV Tienertoneel en daarna volg ‘n ryk tradisie van die Norie toneelgroepe wat deurdring na agt finale met ons top prestasie in 2019 waar die toneelstuk Waterbrief algehele wenners was. In 2025 maak ons skool ook geskiedenis deur die eerste skool in die kompetisie se 51 jaar bestaan te wees wat in een jaar drie toneelstukke by die nasionale finaal het, waar ons tweede en derde plek verwerf, met al drie tonele in die Top 5. Verder presteer die toneel leerders uitsonderlik op individuele vlak ook tydens die Aardklop Pronk Digitaal asook ATKV Digitoneel kompetisies. In 2025 stap ons met eerste en tweede plek weg by ATKV Digitoneel en ook as wenners van Aardklop Pronk Digitaal. In 2026 kan ons reeds trots wees met ‘n Norie as algehele wenner van die Nasionale Proscenium kompetisie en as wenners van die Reza de Wet Toneelfees.

Talentweek

Talentweek

Talentweek is beslis ʼn hoogtepunt by Nories. Daar is geleentheid vir individue, duette en groepe om in te skryf en te spog met talent! Enige items waarmee ʼn gehoor op ʼn verhoog vermaak kan word, kan ingeskryf word: sang, instrumentaal, drama, dans, "bands", ensovoorts. Deelnemers moet self oefen, self vir rekwisiete sorg, eie uitrustings kies en verskaf. Die skool verskaf die professionele klankspan en beoordelaars. Dit is nie ʼn praktiese eksamen of kunswestryd nie. Beoordeling is lekker informeel en gaan oor vermaaklikheidswaarde, voorkoms wat by die item pas en afgerondheid. Ons soek na daardie X-faktor!

Sluit Aan By Ons Kulturele Program

Word deel van 'n lewendige kultuurgemeenskap waar kreatiwiteit en selfuitdrukking bevorder word.

Ons Tema Vir 2026

Hierdie jaar sal ons skool fokus op die vervulling van elke leerder se potensiaal en die bou van 'n gemeenskap waar almal skyn.

"In die Norie-tuin, groei jou drome ruim"

Ons Tema vir 2026