Kultuur By Ons Skool

Hoërskool Noordheuwel streef na die ontwikkeling van gebalanseerde volwassenes en daarom bied ons 'n wye verskeidenheid kultuuraktiwiteite waarin leerders hul kan uitleef en hul talente kan ontwikkel.

Kriteria vir Kultuurtoekennings

Nories se kultuur is kookwater en ons glo dat, om erkenning aan ons uitblinkers te gee, leerders aanspoor om altyd harder te probeer. Die kriteria waarop kultuurtoekennings gebaseer word, kan hier afgelaai word .

Koor

Koor

Ons koor presteer al jare onder die bekwame leiding van ons koormeester, Brendon Grové. Ons kompeteer jaarliks op verskeie platforms en presteer veral by die ATKV se kompetisies. Ons sing graag liedere uit verskeie genres en geniet die samehorigheid onder mekaar. Musiek is deel van ons bestaan.

A Capella

A Capella

Die Norie A Capella is 'n sanggroep wat sonder enige instrumentale begeleiding sing. Dit bestaan uit 20 tot 25 leerlinge vanaf graad 8 - 12. Hulle sing liedere uit verskillende genres en tale. Hulle tree ook graag op by funksies en geniet elke oomblik daarvan om gehore te vermaak.

Redenaars & Debat

Redenaars & Debat

Redenaars is daardie platform waar jy leer om self te dink. By Nories is dit beslis waar jy leer om jou sê te kan sê op ʼn sinvolle manier. Nories presteer jaarliks by die ATKV en dring deur na die landswye finale kompetisie. Radikale Redenaars en Oppitongaf is ook belangrike kompetisies waaraan Nories deelneem.

Spreekkoor

Spreekkoor

Die spreekkoor bestaan uit ʼn groot groep leerders wat graag deelneem aan kunswedstryde. Ons oefen hard en hou daarvan om elke jaar iets nuuts te probeer. Kom word deel van Nories se spreekkoor.

Toneel

Toneel

Noordheuwel het ‘n uitstekende geskiedenis van prestasie by die Tienertoneel Kompetisie. In 2014 dring die skool vir die eerste keer deur na die ATKV Tienertoneel en daarna volg ‘n ryk tradisie van toneelgroepe wat deurdring na agt finale. Ons topprestasie in 2019 was die toneelstuk, Waterbrief, wat as algehele wenner aangewys is. In 2025 maak ons skool ook geskiedenis deur die eerste skool in die kompetisie se 51-jarige bestaan te word wat in een jaar drie toneelstukke by die nasionale finaal het, waar ons ‘n tweede en ‘n derde plek verwerf, met al drie tonele onder die Top 5. Verder presteer die toneelleerders uitsonderlik op individuele vlak tydens die Aardklop Pronk Digitaal en die ATKV Digitoneel kompetisies. In 2025 stap ons met ‘n eerste en ‘n tweede plek weg by die ATKV Digitoneel en ook as wenners van Aardklop Pronk Digitaal. In 2026 is ons trots op ‘n Norie wat as algehele wenner van die Nasionale Proscenium Kompetisie aangewys is. Ook was ons wenners van die Reza de Wet Toneelfees.

Talentweek

Talentweek

Talentweek is beslis ʼn hoogtepunt by Nories. Daar is geleentheid vir individue, duette en groepe om in te skryf en te spog met talent! Enige items waarmee ʼn gehoor op ʼn verhoog vermaak kan word, kan ingeskryf word: sang, instrumentaal, drama, dans, bands en nog vele meer. Deelnemers moet self oefen, self vir rekwisiete sorg, eie uitrustings kies en dit verskaf. Die skool verskaf die professionele klankspan en beoordelaars. Dit is nie ʼn praktiese eksamen of kunswestryd nie. Beoordeling is lekker informeel en gaan oor vermaaklikheidswaarde, voorkoms wat by die item pas en afgerondheid. Ons soek na daardie X-faktor!

Sluit Aan By Ons Kultuurprogram

Word deel van 'n lewendige kultuurgemeenskap waar kreatiwiteit en selfuitdrukking bevorder word.

Ons Tema Vir 2026

Vanjaar fokus ons op die vervulling van elke leerder se potensiaal en die bou van 'n gemeenskap waar almal se lig skyn.

"In die Norie-tuin, groei jou drome ruim"

Ons Tema vir 2026